BLOEMFONTEIN. – Om Lood de Jager te verloor is ’n Super-slag, maar Andries Ferreira het lank gewag vir sy kans en is uitgehonger. Só het Francois (Swys) Uys gesê voordat hy vandag hier teen die Stormers die eerste keer in ’n Superrugby-wedstryd saam met Ferreira ’n begin-slotpaar vorm. Uys, wat in 2014 een van die Cheetahs se min staatmakers is, meen die 24-jarige Ferreira is oorgehaal om homself te laat geld. Hoewel die Stormers in groter moeilikheid is, is albei spanne in die Vrystaatstadion uitgedun op slot. Die besoekers draf met Michael Rhodes en Ruan Botha as rankers uit, met Jurie van Vuuren ’n plaasvervanger. Hulle het Eben Etzebeth, De Kock Steenkamp, Rynhardt Elstadt en Manuel Carizza op die krukkelys. De Jager het vanjaar uitgetroon, maar is verlede naweek teen die Haaie beseer. Die Cheetahs moet ook sonder die beseerde Ligtoring Landman klaarkom. Volgens Uys, wat vandeesweek die derde keer pa geword het, sal sy span die Stormers toets. “Ek het baie respek vir ’n ou soos Michael Rhodes. “Daar word baie dieselfde van hom verwag as van my. Hy is ook eintlik ’n flank en doen baie goed op slot. “As ’n ou na die Stormers se beseringslys kyk, sal ons beslis druk op hulle in die lynstane wil sit. “Ons wil nie net ons eie balle wen nie, maar ook goed meeding.” Uys (42 Super-stryde) en Ferreira (18) het al in Curriebeker-rugby as slotpaar begin, maar nog nie in Super-rugby nie. Uys was voorheen ’n flank en het in 2013 meestal saam met De Jager Super-rugby gespeel. Ferreira was dikwels ’n plaasvervanger. Uys meen Ferreira het onder meer weens beserings lanklaas ’n ordentlike Super-kans gekry. “Dries het lank gewag en dit maak ’n ou opgewonde vir hom. “ ’n Mens kan in die oefeninge sien hoe honger hy is.” Uys meen een van die redes vir sy goeie peil is omdat “hy langs ’n enforcer soos De Jager speel”. “Lood is een van die beste slotte in die land en behoort een of ander tyd vir die Bokke te speel. “Dis lekker om te weet só ’n ou ondersteun jou.” Volgens Uys was vyfslot in 2013 nog vir hom ’n nuwe rol, maar raak hy al hoe meer gemaklik daar. Hy het voorheen eers vierslot gespeel. “Daar is ook meer verantwoordelikheid op vyfslot (om die lynstaantekens te roep) en ek geniet dit.”