Iemand kan nog sê dat hy van die VVK-benadering as ‘n strategie om die vryheid te bereik, verskil, maar om te kenne te gee dat dit in stryd sou wees met Afrikanernasionalisme, is algehele bog. Hoe lyk diesulkes se alternatief? Leef vir ‘n onbepaalde tyd voort onder die hiel van ‘n swart oormag en ‘n onchristelike grondwet wat elke element van Afrikanernasionalisme probeer vernietig; finansier hulle met jou belasting; sien toe hoe hulle jou kinders en kleinkinders se gees in hulle skole en met hulle gelykheidspropaganda vergiftig; en verduur dit maar in die hoop dat daar een of ander tyd ‘n wonderwerk sal plaasvind wat die situasie sal verander. Ons glo dat die lotgevalle van nasies en volkere deur die almagtige God wat Hom in sy Woord aan ons geopenbaar het, bestier word. Daarvoor gebruik Hy mense in sy diens. In daardie geloof het ons tot die VVK-aksie toegetree, en wie weet, dalk is dié aksie ‘n voetstap wat deur Hom gerig word op pad na die herstel van ons volk se vryheid, die begin van daardie wonderwerk. As dit blyk nie so te wees nie, sal ons in stilte en nederigheid in sy wil berus.