Nasionalisme is al kortliks gedefinieer as liefde vir die eie, dit wil sê ‘n vereenselwiging met en ‘n liefde en waardering vir die eie volk en die volk se eiendomlike, dit is sy identiteit, sy geestelike en kulturele waardes en gebruike, sy herkoms, geskiedenis en vaderland, en alles wat eie is aan daardie volk. Al daardie elemente werk mee om sy besondere lewens- en wêreldbeskouing te vorm en hom te maak wat hy is: ‘n unieke volk, onderskeie van alle ander volke op aarde. Hierop kan seker nog baie uitgebrei word, maar vir ons doel kan ons daarmee volstaan. Een van die sterkste drange van die nasionalisme is die drang na vryheid, oftewel selfbeskikking; die begeerte van ‘n volk om oor sy eie lotgevalle te beslis en nie deur ander oorheers te word nie: nie polities of ekonomies nie, of selfs om nie deur groot getalle vreemdelinge in sy eie lewensruimte, dit wil sê sy Godgegewe vaderland verdruk of verdring te word nie. Dit was daardie drang na vryheid wat ten grondslag gelê het van die Groot Trek en die stigting van die Boererepublieke, en wat ná die neerlaag van 1902 die brandstof was wat die stryd vir die totstandkoming van die Republiek van Suid-Afrika in 1961 aangevuur het. Die vryheidsdrang is ‘n onmiskenbare uiting van nasionalisme. Hoe sommige volksgenote wat die VVK-aksie teenstaan dus Afrikanernasionalisme téénoor die vryheidstrewe wat die daarstelling van ‘n eie Volksraad onderlê, kan stel, is net te verklaar as moedswilligheid en kwaadwilligheid.