Nasionalisme is ‘n geweldige sterk mag in die lewe van ‘n volk. In die wel en weë van die Afrikanervolk het dit ‘n besondere rol gespeel om ons tot die hoogtes te bring wat ons beskore was om te betree. Dit was ook die mag wat ons in tye van druk en swaarkry aangevuur het om voort te beur. Daar was ook tye in die volkslewe toe dit gelyk het of dit getaan het; toe dit wou lyk asof die volk in die breë nie meer erg daaraan gehad het nie en slegs ‘n relatief klein groep Afrikaners die draers daarvan was. In die onderbewuste van ons volk het dit egter bly sluimer, om dan op bepaalde tye weer na die oppervlakte van die volksbewussyn deur te dring en soos ‘n wegholvuur deur die volkslewe te trek. Daar is ‘n groep of groepe wat die bestaan van Afrikanernasionalisme ontken omdat hulle slegs in die bestaan van ‘n Boerevolk glo. Hulle sê daar bestaan nie ‘n Afrikanervolk nie, en dus kan Afrikanernasionalisme ook nie bestaan nie. Laat ons nie met hulle twis nie. ‘n Vreemder verskynsel is dat sommige ander, wat ook sê dat hulle vryheid nastreef maar die Volksraadsverkiesing opponeer, Afrikanernasionalisme as die teenpool van die VVK-aksie voorhou, asof dit wedersyds uitsluitende sake is. Die verskillende menings maak dit nodig om die vraag te beantwoord: wat is nasionalisme, of Afrikanernasionalisme dan?