Die Suid-Afrikaanse rand voel die druk vanuit verskeie oorde en het die afgelope tyd aansienlik teenoor al die toonaangewende geldeenhede verswak. Alhoewel die land se ekonome die bedreigde euro as die hoofrede aangee, kan die interne politieke woelinge in Suid-Afrika se invloed op die verswakking nie geïgnoreer word nie. Die rand word op politieke gebied afgerem deur die dreigende nasionalisering van die sosiale rewolusie, staatskorrupsie en nou die inligtingswet. Daar word voorspel dat die rand in die loop van aanstaande jaar tot R9,00 teenoor die dollar kan verswak, wat die inflasiedruk nog verder sal verhoog. Intussen het die rand reeds verlede week tot R8,50 teenoor die dollar verswak, voordat dit effens versterk het. Teenoor die Britse pond verhandel die rand op R13,14 teenoor R10 ‘n paar weke gelede. Suid-Afrika het al geleer dat buitelandse beleggers vining is om hulle beleggings uit die land te onttrek as daar onrustigheid ontstaan. Buitelanders was tot verlede week reeds R17,4 miljard netto verkopers van aandele, met die doel om hulle geld te beveilig. Dieselfde tyd verlede jaar was buitelandse beleggers se netto aankope van aandele R29,2 miljard. Die swak rand kom op ‘n ongeleë tyd, want daar word groot kapitaalinvesterings beplan op kragsentrales, Spoornet en paaie. ‘n Aansienlike deel van die uitgawes het invoere tot gevolg wat aansienlik duurder word weens die swak rand. Daar is ook buitelandse lenings wat teen ‘n onvoordelige wisselkoers terugbetaal moet word.