Verdere optrede gaan volg op die pas afgelope besoek van die sekretaris van die Afrikaner Volksraad, mnr. Henk van de Graaf, om die buiteland bewus te maak van die ware omvang van die volksmoord op die Afrikanervolk. Nagenoeg agt lande se parlementariërs het in die Europese Parlement (EP) geluister na die inligtingsessie wat mnr. Van de Graaf gehou het oor die plaasmoorde in Suid-Afrika. “Hulle het geweet hier is ‘n probleem in Suid-Afrika, maar het nie geweet wat die omvang daarvan is nie. “Daar kan verwag word dat ‘n mosie in die EP teen die plaasmoorde sal volg. ‘n Opvolgmosie sal ook in die Nederlandse parlement dien. Ook in die Belgiese Senaat kan ‘n mosie verwag word. Mnr. Van de Graaf het ná sy toespraak in die EP sewe sessies met die Franse, Duitse, Engelse en Vlaamse media gehad. Video-opnames van onderhoude met onder meer Vlaams Belang se EP-lid, Philip Clayes, asook die EP-lid en leier van die British National Party, Nick Griffin, is op die webblaaie van hul onderskeie partye en Youtube beskikbaar. Van die video’s is getiteld, “Nick Griffin BNP MEP – state-sanctioned racist murder of white farmers in Africa” en “Genocide in Zuid-Afrika by Vlaamsbelang.” Die boodskap word ook in Amerika via internet uitgedra, waar ‘n dringende oproep gedoen word dat by bepaalde Suid-Afrikaanse ambassades oorsee betoog moet word teen die volksmoord op die Afrikanervolk.