George Cloo­ney, een van Hollywood se mees gesogte vrygeselle, het aan sy Britse vriendin, Amal Alamuddin, ’n prokureur, verloof geraak, het die tydskrif People Saterdag berig. “George en Amal probeer ongeërg wees daaroor, maar terselfdertyd probeer hulle dit nie eintlik wegsteek nie,” het People berig en ’n anonieme bron aangehaal wat glo “kennis dra van die gebeure”. “Ek dink dis omdat hulle die mense wat hulle liefhet wil laat verstaan dat hulle opreg is, dat hulle van plan is om vir altyd saam te wees,” het die bron gesê. Die verlowing het “nie te lank gelede gebeur nie, dink ek”, aldus die bron, en bygevoeg dat dit nie lyk asof daar onmiddellike trouplanne is nie. ’n Ander bron het aan die tydskrif gesê Clooney en Alamuddin is verlede Donderdag by ’n spoggerige restaurant in Los Angeles opgemerk waar hulle saam met die supermodel Cyndi Crawford en haar man geëet het. Die twee is glo al lank vriende met Clooney. Alamuddin het toe ’n “groot ring” gedra, het die bron aan People gesê. Clooney (52) het al ’n rits vriendinne gehad, modelle en aktrises, maar het nog nooit gelyk of hy die knoop wil deurhak nie. Alamuddin (36) is ’n Britse prokureur wat in internasionale reg en menseregte spesialiseer. Clooney was nog altyd in menseregte-kwessies geïnteresseerd, soos die humanitêre krisis in Darfoer. Hulle het reeds in Oktober in Londen in die openbaar as ’n paartjie verskyn en is ook al saam in New York opgemerk.