Die DA gaan adv. Thuli Madonsela, openbare beskermer, vra om berigte te ondersoek dat Chancellor House, die ANC se beleggingsmaatskappy, die Eskom-verskaffer Pfisterer South Africa gekoop het. “Dié laakbare misbruik van openbare geld gaan die ANC bevoordeel ten koste van gewone Suid-Afrikaners – te midde van ’n kragkrisis wat die ekonomie skade berokken het en wat tot werkverliese kan lei,” het die DA volgens Weekend Witness die naweek in ’n mediaverklaring gesê. Die party het gesê hy gaan Madonsela vra om die transaksie onmiddellik te ondersoek. “Die ANC het reeds miljoene rande wins gemaak uit sy aandeelhouding in Hitachi Power Africa, ’n maatskappy wat Suid-Afrika se kragkrisis uitrek weens sy mislukking om sy multimiljardrand-kontrak met Eskom na te kom. Dit kan nie so voortgaan of herhaal word nie. “Ek wil ook Zweli Mkhize, ANC-tesourier-generaal, uitdaag om sy stilswye te verbreek en sy vroeëre beloftes na te kom om sulke transaksies te verhinder en Chancellor House te dwing om sy belegging onmiddellik te onttrek,” het Lance Greyling, DA-woordvoerder oor energie, gesê. Greyling het gesê die DA sal weer ’n private lede-wetsontwerp by die parlement indien om die beleggings van politieke partye te verbied. “Die ANC se beloftes om Chancellor House se sake agtermekaar te kry, kom dadels van en dit is nou tyd om dié monster wat staatskontrakte so verslind finaal te sluit,” het hy gesê. Natasha Michael, DA-LP en woordvoerder oor openbare ondernemings, sal intussen aanhou veg om toegang tot alle kontrakte van die Medupi-kragstasie, het Greyling bygevoeg.