Die beleëring van blanke boere word al hoe feller op verskillende maniere deur die ANC-regime toegepas. Een van die wyses is deur wetgewing en die landbousektor word deur sowat drie beoogde wette in die gesig gestaar. Binnekort word ‘n wysigingswetsontwerp op die restitusie van grondregte (wat volgens die ANC in 1913 ontneem is) in die parlement ter tafel gelê. Dié wetgewing word oor ’n wye spektrum beskryf as ’n manier om nuwe grondeise te gebruik om grondonteiening te bevorder. Nóg wetgewing wat in die pyplyn is, is die wetsontwerp op eiendomswaardasie en die wetsontwerp op onteiening. Volgens eersgenoemde sal die staat besluit wat die waarde van ’n bepaalde stuk grond is en sal eensydig daarvolgens vergoeding uitbetaal. Die beoogde onteieningswet gee ook die staat diktatoriale magte aangesien dit grondonteiening toelaat voordat die staat al die nodige vereistes nagekom het soos dit in die grondwet uiteengesit word. Grondeise wat tans in die Cullinan-omgewing aan die gang is, is onlangs teengestaan en die boere in dié omgewing dring daarop aan dat bewys gelewer moet word dat die eise wel wettig is. Dit volg nadat van die eisers (soos 50-90% grondeisers tot dusver) geskik het om eerder net geldelik gekompenseer te word. Die staat wou toe net die grond waardeer om die geld uit te betaal. Die boere meen egter dat nog eise in die toekoms kan volg, en dring aan op bewyse dat die grondeise wel wettig is. Die grondoudit wat die ANC-regime pas bekendgemaak het, is daarop gemik om die skroewe verder aan te draai. Alhoewel daar ’n komitee bestaan, waarop verskeie rolspelers in die landbou dien, het die ANC-regime eensydig gegaan en ’n grondoudit laat doen wat glo drie jaar geneem het.