’n Paar ligte oomblikke – soos toe Caster Semenya in wit tekkies op die verhoog gestap het – het gister op die statige spoggeleentheid voorgekom waarop pres. Jacob Zuma die nasionale ordes aan 52 mense oorhandig het. Die ordes (in die kategorieë goud, silwer en brons) is die hoogste toekenning in Suid-Afrika aan burgers en buitelanders wat ’n beduidende invloed gehad het om die lewens van ander landsburgers te verbeter en hulle te inspireer, en wat bygedra het tot die demokrasie. Dit is die ordes van Mendi vir dapperheid, die Ikhamanga (die strelitzia), die kremetart, Luthuli, Mapungubwe en die orde van die strydgenote van O.R. Tambo. Semenya, wat ’n bronsmedalje ontvang het omdat sy die land trots gemaak het as 800 m-atleet, het die gehoor laat glimlag toe sy in ’n swart pak, strikdas en die wit tekkies die verhoog betree het. Gemoedelike oomblikke het ook geheers toe Jomo Sono, eienaar van die Jomo Cosmos-sokkerklub (silwer), en Zola Skwe-yiya, oudpolitikus en handelsmerkambassadeur van Brand South Africa (silwer), ’n handdruk van Zuma op die verhoog gekry het. Die aktrise Sandra Prinsloo het ’n silwer toekenning ontvang vir haar bydrae tot die uitvoerende kunste en omdat sy die skeppende kunste gebruik om ’n standpunt teen rassisme in te neem. Dit was ’n aandoenlike oomblik toe Zuma ’n silwermedalje om Lucas Sithole, die rolstoeltennisspeler, se nek gehang het. Sithole, wat drie ledemate in ’n treinongeluk verloor het, was die eerste swart mens wat die Amerikaanse Ope-enkelspeltitel in rolstoeltennis gewen het. Sestien mense is postuum vereer, onder wie vyf wat met goue toekennings vir buitengewone bydraes tot die apartheidstryd vereer is. Die enigste lewende mens wat ’n goue toekenning gekry het, is sir Bob Hepple, wat as een van die beste regslui in menseregte beskou word. Hy het oudpres. Nelson Mandela tydens die struggle gehelp om weg te kruip en gevangeneming te ontglip.