Trevor Manuel, uittredende minister in die presidensie, wil ná die verkiesing by die implementering van die nasionale ontwikkelingsplan (NOP) betrokke bly. Hoewel hy sy politieke jas op 7 Mei ophang, het die hoofargitek van die NOP versoek om as ’n “gewone landsburger” deel te bly van die nasionale beplanningskommissie (NBK) en ’n ogie te hou oor die uitvoering van die plan. ’n Bron ná aan Manuel het gesê hy wag nog vir amptelike bevestiging dat hy betrokke kan bly, maar dit is sy plan. “Hy het ’n groot bydrae gelewer tot die plan en hy dra die land se beste belange op die hart. “Daarom sal hy voortgaan om die NBK se maandelikse vergaderings by te woon. Hy sal tyd maak daarvoor – hy het nou baie tyd.” Manuel het verlede maand die einde van sy politieke loopbaan aangekondig en gesê hy gaan ’n paar maande lank rustig oor sy toekoms besin voor hy besluit watter rigting hy gaan inslaan. Cyril Ramaphosa, adjunkvoorsitter van die NBK, gaan na verwagting die leisels by Manuel oorneem. Volgens inligting staan die kommissie se werk tans byna stil terwyl die regering en politieke partye op die verkiesing fokus. Nadat “die stof gaan lê het”, sal die kommissie in samewerking met die regering voortgaan met die implementering van die plan. Die kommissie bestaan uit 25 deeltydse kommissarisse wat deur die president aangestel is, almal deskundiges op hul vakgebied. Phumla Williams, regeringswoordvoerder, het gesê die plan sal beslis nie uitmekaar val wanneer Manuel se termyn tot ’n einde kom nie. “Die plan is deur die hele kommissie saamgestel en die kommissie sal voortgaan om die regering te help met die uitvoering daarvan.” Williams het gesê elke staatsdepartement is tans besig om sy toekomsplanne in lyn te kry met die NOP, en dié planne sal uitgevoer word kort ná die presidensiële inhuldiging in Mei.