’n Omstrede Kaapse sakeman was glo ’n gas by pres. Jacob Zuma se verjaardagvieringe twee weke gelede in Athlone. Die Sunday Times het gister ’n foto van Marius Fransman en Mark Lifman, ’n Kaapse sakeman wat glo bande met die Kaapse onderwêreld het, gepubliseer. Hulle is op 12 April by die Vygieskraalstadion in Athlone afgeneem – dieselfde dag van Zuma se verjaardag. Op die foto dra Lifman ’n geel ANC T-hemp met Zuma se gesig daarop. Lifman is glo ’n vennoot van Jerome “Donkie” Booysen, die vermeende leier van die Sexy Boys-bende in die Kaap. Lifman en sy voormalige vennoot by Specialised Protection Services, André Naudé, staan tans tereg op 156 aanklagte van bedrog en 155 aanklagte van die oortreding van die Wet oor die Reguleringsowerheid van die Sekerheidsbedryf (Sira). Fransman het gesê die ANC hou gereeld groot byeenkomste. “By hierdie spesifieke een was daar ongeveer 5 000 mense en Lifman is nie genooi as ’n BBP-gas nie. Lifman het ook nie vir die ANC geld gegee nie.” Hy het gesê hy en Lifman is nie vriende nie.