​KAAPSTAD. – Twee hengelaars van Durban wat die naweek aan ’n hengelkompetisie deelgeneem het, sterk tans in ’n Durbanse hospitaal aan nadat hulle deur ’n marlyn deurboor is. ​Die mans was bemanningslede op die boot Mducuze en het Saterdag saam met twee ander aan die Durbanse Skibootfees deelgeneem toe die voorval plaasgevind het. ​Volgens Craig Lambinon, nasionale NSRI-woordvoerder, was die boot en sy bemanning sowat 2,5 seemyl buite Umdloti. Dit is sowat 12,5 seemyl van Durban se hawe. ​Een van die beseerdes, ’n man (35), was aan die stuur van die boot, terwyl die skipper, Marc Gieseler, besig was om ’n marlyn van sowat 140 kg in te katrol. ​Die vis het om die boot beweeg, aan die voorkant oorgespring, deur die windskerm gebars en op die bemanningslid gespring. Hy het weer op sy beurt op ’n ander bemanningslid, ’n man (33), geval. ​Albei mans het ernstige beserings opgedoen. ​Lambinon het gesê daar is aanvanklik gedink die vis se vin het die eerste bemanningslid se beserings veroorsaak toe dit hom raakgeklap het. ​“Dokters wat die twee mans ondersoek het, het bevind hul beserings is veroorsaak deur die vis wat hulle albei deurboor het,” het hy gesê. ​Lambinon het gesê die NSRIDurban se reddingsbote Eikos Rescuer II en Megan II, vergesel van ’n paramedikus van Netcare 911, is na die toneel gestuur. ​Die hengelaars is op die Megan II gelaai, waar hul wonde deur ’n paramedikus behandel is. Hulle is hierna na die Durbanse hawe gebring en sterk tans in ’n plaaslike hospitaal aan. ​Volgens Lambinon het die boot ook groot skade opgedoen.