Mense het gedink haar pa was “ ’n monster met ’n baard”, maar vir haar was hy ’n held, sê Annalise Wolfaardt (28). Sy en haar ma, Ester Wolfaardt (56), gesels in hul huis in Villieria, Pretoria, oor die dood van haar pa, Alwyn Wolfaardt, 20 jaar gelede. Sy was maar agt jaar oud toe hy op 11 Maart 1994 ná ’n AWB-inval in die destydse Bophuthatswana doodgeskiet is, ses weke voor Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing. “Hy was my beste maatjie. Hy was alles vir my.” Sy onthou hoe sy saam met hom na AWB-saamtrekke gegaan het. “Ek is saam na die World Trade Centre in 1993 (in Kempton Park, waar die AWB die gebou beset het waar die onderhandelinge plaasgevind het). “Ek was te klein om te verstaan. Vir my was dit net lekker, soos om te kamp.” Ester het sy tas gepak vir die Bop-inval. “Hy is opgeroep en hy’t gegaan. Hy wou nie gaan nie.” Sy bly lank stil, vryf die chihuahua, Angel, op haar skoot. “In daardie stadium was hy die leier in daardie omgewing en ek het vir hom gesê hy moet gaan, dit word van hom verwag.” Sy kyk ver, tik-tik met haar ringvinger langs haar mond. “Wee’ jy, ek sê vir Annalise wat help dit om spyt te wees? Spyt gaan niks verander nie. Jammer help nie.” Sy dood was vir Annalise ’n geweldige slag. “Dit het vir my gevoel alles is weg.” Wie het sy as agtjarige meisie vir haar pa se dood geblameer? “Ek gaan nie daardie woord sê nie,” sê sy. “Dís wat vir my gesê is. Maar hoe groter ek geword het, hoe meer het ek my eie opinie begin vorm. Daar is vir my gesê my pa is dood vir sy land. Sover ek kan sien, het sy land niks gebaat by sy dood nie.”