Die dogter van een van die drie AWB-lede wat 20 jaar gelede in Bophuthatswana doodgeskiet is, het haar pa se skieter vergewe en omarm vandag ’n demokratiese Suid-Afrika. Annalise Wolfaardt (28) was agt jaar oud toe haar pa, Alwyn Wolfaardt, saam met ander AWB-lede na die destydse Bophuthatswana opgeruk en daar op teregstellingstyl doodgeskiet is ná ’n skermutseling met veiligheidsmagte van Bophutha­tswana. Sommige AWB-lede het uit hul voertuie onskuldige omstanders langs die pad doodgeskiet terwyl hulle in ’n konvooi uit Bophuthatswana gejaag het. “Ek het hom vergewe,” het Annalise die naweek oor haar pa se skieter gesê terwyl Suid-Afrika die 20-jaar-herdenking van die land se eerste demokratiese verkiesing op 27 April 1994 gevier het. Dit was net ses weke ná die Bophuthatswana-inval op 11 Maart. AWB-magte het die tuisland ingeval ter ondersteuning van dr. Lucas Mangope se regering. “Dis nie my plek om hom te oordeel nie,” het Annalise gesê oor Ontlametse Bernstein Me­nyatsoe, die Bophuthatswana-polisieman wat haar pa en nog twee AWB-lede, Fanie Uys en Nic Fourie, doodgeskiet het. Menyatsoe het in 1999 amnestie gekry. Die drie se dood het destyds groot opslae gemaak omdat skokkende beeldmateriaal daarvan uitgesaai is. “Ons het geweet hy’s in Bop en ons het die TV aangeskakel om te kyk of daar nuus is,” het Ester Wolfaardt, Alwyn se weduwee en Annalise se ma, die naweek in hul huis in Pretoria gesê. “Toe sien ons dit – die blou Mercedes en hulle. Hy het klaar doodgeskiet op sy arms gelê. En ek meen, jy ken jou man se lyf. Ek het geweet dis hy.” Ook Annalise het dadelik besef dit is haar pa, al was sy net agt jaar oud. “Sy arms en hy op die grond in die son. Dis die beeld wat ek onthou. “Ek het dadelik begin huil. Ek het op my pa se kant op hul bed gaan lê, en ek het hom geruik.” “Hy het soos olie en diesel geruik,” voeg Ester by. “Hy was ’n diesel-mechanic.” Vandag koester nie een van hulle ’n wrok nie. “Emosies was so hoog en so gelaai,” sê Ester. “Dis nie vir my om hom (Me-nyatsoe) te beskuldig nie. Dit was oorlog, dit was opstand.” Ester, ’n teatersuster in ’n Pretoriase hospitaal, sê hul gesin was destyds verregs, maar sy en Annalise is glad nie meer nie. “My hele politieke uitkyk, alles, is anders. My een (swart) verpleegster is soos ’n kind vir my. Ek is lief vir die vrou wat in my huis werk. “Ek was nooit hatig teenoor swart mense nie, maar ek het nou respek en insig wat ek nie daardie tyd gehad het nie. (My huishulp) is ook ’n weduwee soos ek. Sy het ook kinders wat sy alleen grootsukkel. Sy kry ook swaar. “Ons het grootgeword met die oortuiging ons is die superieure ras, maar dis nie waar nie. Ons is almal net mense – net ’n kind, net ’n ma, net ’n pa.”