’n Spoghuis van miljoene rande behoort nou aan die aktrise Sandra Prinsloo nadat die hof ’n skikking bevestig het waarin sy dit van haar eksliefde “koop” teen R250 000. Dié veteraan van die verhoog en prof. Willem van Riet se verhoudingsbreuk is afgehandel nadat haar siviele eis teen hom vir die huis ná 18 maande geskik is en deur die hooggeregshof in Johannesburg bekragtig is. Die twee was ’n paartjie, maar nooit getroud nie. Prinsloo (66) en Van Riet (72), voormalige Springbok-kanovaarder en omgewingskonsultant, se verhouding van sewe jaar het kort voor Kersfees 2011 skipbreuk gely. Dit het gekom nadat Van Riet aan haar erken het hy het haar 18 maande lank met die Sweed Eveline Dietz verkul. Dié twee is intussen getroud en pendel tussen Stilbaai en Swede. ’n Skikking is tussen Prinsloo en Van Riet bereik ingevolge waarvan sy die multimiljoenrandse huis hou waarin hulle in die Clovelly-woonbuurt naby Kalkbaai gewoon het. Die huis, met sy outydse bekoring en see-uitsig, is eergister in die onbestrede mosiehof in die hooggeregshof in Johannesburg aan die aktrise toegestaan. Prinsloo moet Van Riet op haar beurt R250 000 betaal om die skikking te finaliseer. Sy moet ook die oordragskoste betaal om die huis in haar naam te kry, wat teen ’n groot afslag deur Van Riet se regsverteenwoordigers hanteer sal word. Van Riet het die erwe waarop die huis geleë is in 2004 vir R2 miljoen gekoop. Prinsloo het Van Riet in 2012 gedagvaar. Sy het die R1 miljoen (met rente) teruggeëis wat sy aan hom voorgeskiet het vir die koop van die huis nadat hulle saam van Johannesburg daarheen verhuis het. Sy het ook R93 688 geëis vir opknappingswerk aan die huis. Verder het sy geëis dat Van Riet die R500 000 wat hy namens haar op die aandelebeurs belê het, met die wins van R166 000 daarby, terugbetaal.