Jani se DIY-blog: Gee jou yskas nuwe lewe Jani Goussard van  Paint & Decor DIY deel haar nuutste projekte met SARIE.com en wys jou stap vir stap hoe om dit sélf te doen. Die week kikker sy die voorkoms van ’n ou yskas op! Yskas na pragkas in 5 stappe My sussie is verantwoordelik vir hierdie week se projek… Sy smeek my nou al vir weke dat ek haar yskas moet oorverf. Dié yskas is baie oud, maar betroubaar, en al wat nodig is, is ’n nuwe jassie verf! Met Chalk Paint™ is dit ongelooflik eenvoudig. Jy verf net! Jy benodig: ’n Yskas Annie Sloan Chalk Paint™ Skuurpapier (’n growwe skuurpapier, omtrent 100 grint) Verfverdunner ( thinners ) Maskeerband Waks – ek gebruik Annie Sloan Clear Soft Wax. Jy kan ook ’n vernis met ’n waterbasis gebruik, soos dié van Harlequin Paints. Kaasdoek (mutton cloth ) Stap 1 – Skuur Om die yskas voor te berei moet jy dit ’n rowwe afskuur gee. Dié stap is sodat die oppervlak van die yskas bietjie gebreek word en die verf beter vatkans het om bo-op te sit. Ek gebruik sommer ’n 100-grint-skuurpapier regoor. Stap 2 – Beplan Beplan mooi wat jy wil doen op jou yskas – dit kan baie neutraal wees, of baie persoonlik en speels soos ons in hierdie projek gedoen het. Omdat dit my suster se yskas is, word die ontwerp beplan volgens haar styl en smaak: Plaas, Afrikaans, vintage. Ons besluit om die yskas die gevoel van ’n ou koffieblik te gee. Ons kies ook ’n paar prentjies van Nguni-beeste en ’n man op ’n perd om dié atmosfeer te skep. Hierdie prentjies het ek sommer op die internet gesoek en op ’n laserdrukker uitgedruk wat ons op die yskas gaan afdruk ( transfer) . Stap 3 – Verf Ná jou beplanning gedoen is, kan jy begin verf. Lekker! Ek begin altyd van die agtergrond af en werk my pad vorentoe. Maar verf nes jy lus het. Jy kan enige kwas gebruik – wees net versigtig dat hoe meer ferm of hard die kwas se hare is, hoe meer tekstuur gaan jy in die verf se afwerking kry. Chalk Paint™ is ontwerp om tekstuur te behou – gebruik dus ’n kwas met sagte hare of selfs ’n angorahaar( mohair )-roller indien jy ’n gladde afwerking wil hê. Stap 4 – Afdruk ( Transfer) Ek weet ek gebruik hierdie tegniek byna elke week – maar dit is só eenvoudig en verskaf soveel vreugde omdat dit maklik detail gee. Om woorde of prente af te druk ( transfer)  gebruik ons my gunsteling-tegniek met verfverdunner, soos wat ons al in ander projekte ook gedoen het. Dit is belangrik dat jy altyd jou afdrukke doen vóór jy die produk wat in Chalk Paint™ geverf is, seël. Die verfverdunner-tegniek kan net op ’n poreuse oppervlak gedoen word. Druk vir jou woorde of ’n prent in spieëlbeeld uit op ’n laserdrukker. Knip die sinne uit en rangskik dit op die yskas soos jy dit verkies. Maak dit vas met maskeerband. Maak jou kaasdoek (of ou wit T-hemp) effens nat met ’n bietjie verfverdunner. Dis belangrik om nie jou lappie sopnat te maak nie, want dit sal die ink te veel laat loop. Plaas die klam lappie op die omgekeerde, vasgeplakte prent en begin vee. Begin by een hoek van die papier en werk stelselmatig oor die hele prent. Die papier sal deursigtig raak met die vee van die verdunner. Maak seker jy vryf lekker hard en sorgvuldig oor die hele papier – jy dra nou letterlik die ink van die papier af oor tot op die yskas. Oooo, en hierdie is my GUNSTELING-oomblik! Ek raak altyd opgewonde om die papier te lig en te sien of die ink mooi afgekom het. Doen dit eers versigtig van een hoekie af. As die ink mooi afgekom het, peul die hele papier van die yskas af. Indien die ink plek-plek nie afgekom het nie, vou die papier weer terug teen die tafel en vee nog ’n bietjie met die verfverdunner. En SIEDAAR! Jou prente en woorde is op die yskas! Stap 5 – Waks Al wat nou oorbly is om die yskas te ‘seël’. Ek gebruik Annie Sloan se Clear Soft Wax omdat dit ’n pragtige sagte effek skep terwyl dit ook ’n baie duursame seëllaag skep. Die waks word meer duursaam en hard met tyd – werk die eerste week versigtig met die yskas, daarna en veral ná 28 dae sal die verf geseël wees. Jy kan met tyd nog lae waks opvryf vir ekstra beskerming. Vryf die wak met ’n kaasdoek aan. Vryf net genoeg sodat dit in die oppervlak van die verf absorbeer word. Jy kan die volgende dag weer ’n laag waks invryf of met ’n droë kaasdoek politoer – dit sal die waks mooi laat blink. En daar het jy ’n pragtige “nuwe” yskas! Jani Goussard,  Paint & Decor DIY Volg ook Verbeelding.Image op Facebook vir nóg meer DIY-projekte of inligting oor werkswinkels.     Alle foto’s en inhoud se kopiereg lê by Jani Goussard,  Paint & Decor DIY. Jani se vorige blogs Maak ’n koffietafel uit ’n ou lessenaar Hou al jou belangrike dinge op jou onthou-rak Maak jou eie ‘ontwerpersbakke’ Hang jou sleutels mooi op Dekor-blokkies is duur, só maak jy jou eie Maak jou kas se handvatsels weer mooi – DEEL 2 Maak jou kas se handvatsels weer mooi – DEEL 1 Maak jou eie lampskerm Jani se DIY-blog: Maak jou eie lampskerm in 8 stappe Haar gewildste projek op SARIE.com: Jani maak duursame ‘sementpotte’ van plastiekpotjies – in 4 stappe! Jani maak boomstomp-kershouers vir die winter Jani maak pragtige papier-armbande Jani verf tekkies – lyk splinternuut The post Jani se DIY-blog: Gee jou yskas nuwe lewe appeared first on SARIE .