Model Jesse van Wyk oorleef kanker Hy was maar 26, ’n suksesvolle model en lief vir gim en branderplankry, toe Jesse van Wyk van Kaapstad hoor hy het testikulêre kanker. In ’n oogwink het sy lewe verander. As dit nie vir sy ouers was nie, het dié kankerstryd hom geknak. Maar hulle het dadelik aangedring dat hy positief bly, vertel die aantreklike donkerkop. Wanneer hy vandag – net meer as ’n jaar ná sy diagnose – terugkyk, verkies hy om te sê hy het kanker oorwin, eerder as net oorleef. “Ek kan nie glo ek was ’n paar maande gelede sonder hare in die hospitaal besig om te veg om my lewe nie,” sê hy. “Ek weier om ’n slagoffer te wees. As jy kies om ’n positiewe uitkyk te hê, kan jy enige hindernis oorkom.” Dít is die boodskap wat hy nou aan die wêreld wil verkondig. En as hy net één mens kan oortuig om vir roetine-doktersondersoeke te gaan om ’n siekte te voorkom of betyds te diagnoseer, het hy in sy doel geslaag. Saam met sy vriende by ‘n troue voor die diagnose Jy hoor nie sommer kankerlyers dit sê nie, maar ek glo kanker het my lewe ten goede verander. Ek is ’n beter mens, gesonder en gelukkiger as ooit, maar bowenal het ek ’n nuwe lewensuitkyk. Ek het ’n tweede kans gekry en gaan álles moontlik doen om my lewe te geniet, ander te inspireer en bewus te maak van voorkoming. Deesdae bestee ek baie van my tyd in die gim en op my branderplank. Ek het ook my modelloopbaan hervat. Onlangs het ek my B.Sc.- graad deur Unisa voltooi en my eie uitvoer-onderneming begin. Ek voel opgewonde oor die lewe. Maar skaars ’n jaar gelede sou jy my nie herken het nie. Ek het byna by die dood omgedraai – fisiek én psigies.  Die storie Ek was in New York vir ’n modelkontrak toe ek een aand in Maart verlede jaar hoor hoe ’n karakter in ’n TV-komediereeks hom daaroor bekommer dat hy dalk siek is. Uit nuuskierigheid het ek ook ’n selfondersoek gedoen en agtergekom my een testikel is opgeswel. Ek het geskrik en dadelik my ouers, Etresia en Willem, wat in Singapoer woon, gebel. Omdat ek nie oorsee siekefonds-dekking gehad het nie, het hulle my aangeraai om Kaapstad toe te vlieg en my huisdokter te besoek. Die dokter het my na ’n uroloog verwys. Ek sal die dag in die uroloog se spreekkamer nooit vergeet nie. Sy woorde was: ‘Daar’s nie ’n maklike manier om dit te sê nie, my seun, maar jy’t testikulêre kanker.’ Dit het gevoel die aardbol kom sit op my bors. Jy’s so geskok, jy kan die nuus nie dadelik inneem of aanvaar nie. Vrae het deur my kop gemaal: Hoe kon so iets my tref ? Is testikulêre kanker nie iets wat ouer mans kry nie? Ek’s dan bloedjonk en gesond! Ek was boonop ingestel op my gesondheid. Ek het vier keer per week in die gim geoefen, meestal slaai en proteïen geëet, ’n baie aktiewe lewe geleef en soggens ’n hand vol vitamiene gedrink. Ek was ’n suksesvolle model, plaaslik en oorsee, vir handelsmerke soos Woolworths, Garnier, Guess Asië . . . Kanker was die laaste ding wat ek verwag het. Ek het geen pyn gehad nie. Pyn is nie sommer ’n simptoom van dié soort kanker nie en daarom word dit dikwels te laat gediagnoseer. Ek was dan die gesondste ou in my vriendekring. (My vriende het almal groot geskrik, summier opgehou rook en minder begin drink.) Ek moes my ouers sê Ek was bang, alleen in die land en oorweldig deur angs dat die kanker reeds versprei het en ek sou doodgaan . Ek moes die moeilikste oproep van my lewe na Singapoer maak: om my ouers en ouer suster, Kristibel, te vertel. Toe my pa die foon optel, het ek in trane uitgebars. Maar my ouers was dadelik ontsettend positief. Hulle het my hoop en krag gegee om nie dinge te oor-analiseer en oor die ‘wat as’ te dink nie, maar dit eerder dag vir dag te vat. Hulle het my laat voel dis nie die einde van die wêreld nie en dat alles oukei gaan wees. Ek het besluit om al die toetse en skanderings te laat doen en die stryd aan te pak. Ek wou my uitslae so gou as moontlik kry sodat ek kon aangaan met my lewe. Hoe vinniger jy opstaan en terugveg, hoe gouer keer jy dat die negatiwiteit sneeubal en jou opvreet. Jou kop is jou grootste vyand. Jy kan nie toelaat dat jy in ’n gat van depressie verval nie. Jy moet ook besef jy is nooit alleen nie, al voel dit so. Ek het Adeline Mocke , wat toe nog my meisie was, in New York gebel waar sy toe gebly het. Adeline, ’n voormalige Idols -deelnemer en ook ’n model, en my suster het teruggevlieg Suid-Afrika toe. My ouers kon nie dadelik vlugte kry nie – my pa het in Indonesië gewerk en my ma was besig met ’n meditasie-kursus in Kambodja. Ek was baie dankbaar dat Adeline en Kristibel my kom bystaan het. Nogtans was ek deurmekaar van skok en ek was saans te bang om te gaan slaap uit vrees dat ek die volgende oggend nie sou wakker word nie. My testikel is so gou moontlik verwyder. Ek moes weer wag vir die toetsuitslae. Twee dae later het ek die goeie nuus gekry: Daar was geen teken dat die kanker verder versprei het nie. Ek het nie eens chemoterapie nodig gehad nie. Dis moeilik om te beskryf hoe dit voel om van ’n emosionele laagtepunt na só ’n hoogtepunt te gaan. Ek was só bly! Ek het nóg gesonder begin leef: alle gemorskos uitgesny, meer geoefen, beter aanvullings gedrink. Dit het ’n ruk geneem om die trauma te verwerk en weer te glo ek is gesond en mag met my lewe aangaan, maar ek het uiteindelik weer gesond gevoel. “Net toe ek dink alles is verby…” Dié gevoel was egter van korte duur. Met my opvolgondersoek ses maande later het my wêreld weer in duie gestort . Ek het gehoor die kanker het versprei na ’n limfklier naby my lewer en is te na aan ’n hoofslagaar om uitgesny te word. Ek moet nege weke lank chemoterapie kry. Vir die eerste keer was ek kwaad. Ek het dan pas begin vertrou ek het die kanker oorwin, net om te hoor ek moet weer om my lewe veg. Dit was ’n nuwe laagtepunt. Ek wou moed opgee. Die nege weke het soos Everest voor my gelê. Weer het ek my familie in Singapoer gebel. Daardie Skype-oproep het my hele ingesteldheid verander. My ouers het iets gesê wat in my kop vasgehaak het: Ek moet verantwoordelikheid vir my eie lewe neem. Ek het besef ek kan kies hoe ek my situasie hanteer. Begin oplees oor my soort kanker en chemoterapie. Hoe meer jy weet, hoe beter is jou kans om dit te beveg, want jy’s beter toegerus. Jy voel in beheer, want jy weet wat om te verwag. Ek het net op die positiewe feite gefokus en dit oor en oor aan die ander pasiënte vertel wat ook chemoterapie by die onkologie- kliniek op Somerset-Wes gekry het. Dit het húlle weer opgebeur. Ek het myself oortuig en vas geglo ek sál gesond word. Intussen het my ouers ook teruggevlieg om my te ondersteun. Ek het elke dag se chemo met ’n glimlag aangepak, want ek het besef dis nie ’n ramp nie. Ek glo my uitkyk het gehelp dat die behandeling my nie so erg aangetas het nie. Ek het nie een keer naar geword nie. Ek was wel baie moeg en my hare het uitgeval, maar ek kon nie toelaat dat dit my negatief maak nie. Ek het gefokus daarop om te lééf. Altyd met ‘n glimlag in die hospitaal vir ‘n chemo-sessie Ná slegs ses weke van terapie was die gewas weg . Dit het eers nie ingesink nie, want in my kop was ek in ’n oorlewingsfase en dis moeilik om daaruit te kom. Eers toe ek ’n bietjie gaan branderplank ry en perspektief kry, het ek besef: Ek het kanker oorwin! Nou wil ek graag vir ander mense hoop gee deur kankerpasiënte in hospitale te besoek en motiverings-praatjies te lewer. Veral vir jong mans, want ons glo mos ons kan nie ’n lewensgevaarlike siekte kry nie. Ons moenie dink dit kan nie met ons gebeur nie, ons moet ingelig wees oor ons gesondheid. Wanneer ek terugkyk, besef ek die lesse wat ek geleer het, geld vir enige situasie in die lewe. Moenie wonder hoekom slegte dinge met jou gebeur nie. Fokus altyd op die glas wat halfvol is. Moenie moed verloor nie. Luister na jou instink. Moenie te hard wees op jouself nie. Die lewe is kort, doen elke dag iets goeds sodat jy oor niks spyt is nie. En jy mag maar huil oor jou situasie. Ek sal altyd wonder of die kanker gaan terugkom. Dit verg elke dag moed om nie daaraan te dink nie. Ek moet myself herinner om positief te bly en daagliks iets te doen wat pret is. Om die lewe te geniet en my familie te waardeer. Alles gáán oukei wees. Op sy branderplank in Bali The post Model Jesse van Wyk oorleef kanker appeared first on SARIE .