Jani se DIY-blog: Hang jou sleutels mooi op Jani Goussard van Paint & Decor DIY deel haar nuutste projekte met SARIE.com en wys jou stap vir stap hoe om dit sélf te doen. Vandag maak sy ’n bordjie om jou sleutels op te hang. Moet nooit weer jou sleutels verloor nie In my lewe het sleutels ’n manier om net te verdwyn – die heeltyd! Vandag maak ons ’n mooi sleutelbord met ’n paar truuks vir ekstra flair. Jy benodig: ’n Houtplank in die grootte wat jy wil hê Kalfaatgeweer ( caulking gun ) Akriel-seëlaar soos Handyman Acrylic of enige tipe Painter’s Mate Annie Sloan CHALK PAINT™ Dala Podge ’n Mooi prentjie om te podge Metaalkleurige verf of rub – dit is sommer vir bietjie bling , maar glad nie ’n vereiste nie Metaalhakies Annie Sloan Clear Soft Wax en Dark Wax Kaasdoek (m utton cloth ) of ou wit T-hemp ’n Paar kwassies Stap 1: Teken en trek jou 3D-vorm Teken in potlood of bordkryt ’n ontwerp wat jy wil hê moet uitstaan op jou bordjie. Gebruik ’n kalfaatgeweer om die akrielseëlaar uit die buis te pers. Trek ’n netjiese akrielspoor oral op jou getekende patroon en laat dit droog word, dit neem sowat 20 minute. Stap 2: Verf Wanneer jou 3D-patroon droog is, kan jy begin verf. Verf die plankie nes jy wil, ek gebruik Annie Sloan CHALK PAINT™ want ek wil ’n growwe, landelike ( rustic) tekstuur skep. In dié voorbeeld gebruik ek twee kleure – Annie Sloan CHALK PAINT™ Versailles en Country Grey. Dié kleure saam skep diepte en pas by die prentjie wat ek wil podge. Stap 3: Podge Knip die prentjie wat jy op die plank wil podge netjies uit. Smeer Dala Podge op die plankie waar jy die prent wil plaas, laat lê nou die prentjie sorgvuldig op die nat podge en stryk die prentjie plat met ’n kwassie wat nog podge op het. Maak seker die prentjie is plat en daar vorm nie borrels nie. Stap 4: Tweede laag verf Verbloem die rande van die prentjie deur ’n paar kwashale verf wat by die agtergrond pas daaroor te verf. Maak net eers seker die podge is heeltemal droog. Stap 5: Metaal-flair Gebruik ’n metaalkleurige rub of verf om die randjies van die akrielpatroon uit te lig. Wend aan met ’n klein kwassie of sommer jou vinger. Jy kan ook ’n ander kleur verf gebruik of dit net so eenvoudig hou. Stap 6: Waks Die waks is die lagie wat die Chalk Paint™ seël. En jy kan dit ’n mooi outentieke voorkoms gee as jy ook die Dark Soft Wax gebruik. Om te waks: gebruik ’n kaasdoek (of ou T-hemp) en vee sorgvuldig ’n bietjie Clear Soft Wax oor die plankie totdat die voorkoms ’n egalige glans het. Smeer ’n bietjie Dark Wax in die hoekies van jou 3D-ontwerp om diepte te skep nadat jy die plank geseël het met Clear Wax. Die Dark Wax gee ’n pragtige sepia-kleur en verdiep die patroon. Stap 7: Hakies Nou vir die hakies … Ek kap sommer ’n spykertjie halfpad in, trek die spyker weer met die hamer se agterkant uit en draai dan gewone goedkoop koperhakies in die gaatjies. Jy kan natuurlik enige mooi knop of ander hakies gebruik. En voilà! Sleutels aan ’n “I’d rather be in Paris”-plankie! Jani Goussard,  Paint & Decor DIY Volg ook Verbeelding.Image op Facebook vir nóg meer DIY-projekte of inligting oor werkswinkels.     Alle foto’s en inhoud se kopiereg lê by Jani Goussard,  Paint & Decor DIY. Jani se vorige blogs Dekor-blokkies is duur, só maak jy jou eie Maak jou kas se handvatsels weer mooi – DEEL 2 Maak jou kas se handvatsels weer mooi – DEEL 1 Maak jou eie lampskerm Jani se DIY-blog: Maak jou eie lampskerm in 8 stappe Haar gewildste projek op SARIE.com: Jani maak duursame ‘sementpotte’ van plastiekpotjies – in 4 stappe! Jani maak boomstomp-kershouers vir die winter Jani maak pragtige papier-armbande Jani verf tekkies – lyk splinternuut The post Jani se DIY-blog: Hang jou sleutels mooi op appeared first on SARIE .