Anja se blog: “En toe is daar vier” (deel III) Anja van den Berg (32)  is ’n ma wie se lewe handomkeer verander toe die onverwagse nuus van nóg ’n baba kom. Boonop het haar man pas ’n nuwe werk in KwaZulu-Natal aanvaar, en haar ondersteuningsnetwerk sit honderde kilometers ver in Johannesburg. Met ’n baba op die heup en een in die maag. Hoe nou gemaak? Lees Deel I hier Lees Deel II hier 9. Mamma Sutra (PG13) “ Sex makes babies. So it’s ironic that the child, the embodiment of the couple’s love, so often threatens the very romance that brought that child into being .” – Esther Perel, Mating in Captivity Ek was nog nooit ’n groot aanhanger van die Kama Sutra nie. Nie dat ek iets daarteen het nie, dit lyk net na te veel moeite. En asof mens moet strek-oefeninge doen voor die tyd. Ek is wel nou, teen wil en dank, uitgekies vir die Kama Sutra vir getroude ouers . Teensinnig moet ek gereeld ingee tot “the dishwasher position”, maar geniet soms in die geheim “the waltz of the sloths”. Dis net jammer dat nie een van die scenario’s bedpret tot gevolg het nie. Ek mis ’n Red Bull vir energie of ’n groot glas wyn vir ontspanning  –  albei opsies basies buite die kwessie met die swangerskap. So, tussen die groot Moeg en die groot Maag is die gees gewillig maar die vlees reeds aan die slaap. Die enigste bedroom spice waarvoor ek deesdae kans sien, is Indiese wegneemetes onder die duvet. Ek het al ’n paar aksieplanne beraam om dinge tussen die lakens bietjie op te kikker: Die Italian kisses in die vrieskas moes ’n vinnige liplekker-nagereg wees. Die idee was om dit vir mekaar te voer. Maar die happies is net te klein om middeldeur te byt en net te groot om die hele ding in my mond te sit én steeds sensueel te lyk (breinvries lei tot skrikwekkende gesigsuitdrukkings). Toe troos ek maar myself een aand in die bad en eet die res van die pakkie alleen op. Ons probeer ook wegbreek vir date nights, maar dis few and far between …gewoonlik verg dit soveel beplanning dat ons gedaan by die huis aankom. ’n Aandjie saam uit was altyd gesellig en lekker selfsugtig. Ons kon lag en gesels en na hartelus rooiwyn drink. Sommer bly vir ’n  creamy cappuccino . Deesdae bestel ons so vinnig as moontlik ’n Windhoek Light en ’n Appletiser en gesels oor ’n paar praktiese reëlings, skedules en datums. Ons hou darem hande vas en vat ’n blaaskans, maar sit eindelik in stilte soos wat elkeen tot verhaal probeer kom. Ek verras my man met sexy sms’e deur die dag, maar is dan só verlig as Mieke vroeër aan die slaap raak en ek so bietjie tyd vir myself het. Uiteindelik ’n halfuur om ’n gesigmasker op te sit en een artikel in my nuutste SARIE te lees! Dan is ek gedaan. Jammer skat, ek het hoofpyn. En ek kan nie eens behoorlike pynstillers drink daarvoor nie. O ja, en dan het ek ’n  craving vir kookeiers. Wat ’n on-sexy, on-sensuele ete – roosterbrood met kookeier! Ek weet dis propvol voedingstowwe en minerale, maklik en prakties om te maak. Maar daar is net iets baie on-sexy aan kookeiers. Blykbaar gee my hormone nie veel om vir my liefdeslewe nie. Kon ek nie maar ’n craving vir sushi of korma-kerrie gehad het nie? Ek oorweeg ’n  afternoon delight , hy moet nog by Builders Warehouse stop. Hy soen my nek, ek wil net eers ’n kaasbroodjie eet. Duidelik is ons planne om die passievlamme weer aan te steek nie baie suksesvol nie. Dit laat my wonder, is daar dalk ’n spesiale Kama Sutra- scenario vir ’n mamma van ’n peuter en met ’n maag so groot soos ’n klein waatlemoen? ’n Paradigma wat ’n fantasiewêreld kan skep vir lovers wat saam vuil doeke omruil en opgooi skoonmaak? ’n Reeks posisies wat ’n swanger mamma  – wat haar bene soos ’n ster moet buig as sy buk – sexy kan laat voel? Kan iemand asseblief die Mamma Sutra skryf en die prys van die boek (posgeld ingesluit) vir my e-pos? Dink aan posisies soos Die Bottelmaak/Borsvoed Bons , Kitsgereed Kafoefel en Slaap-met-oop-o ë-orgasme . En heg sommer ook ’n geskenkbewys vir Libido Booster daarby aan. The post Anja se blog: “En toe is daar vier” (deel III) appeared first on SARIE .