Die papierwerke Tydens ‘n besoek aan Australië jare gelede, waar ek baie met Suid-Afrikaners te doen gekry het wat daar woon, het ek rillerverhale gehoor. Verhale van Suid-Afrikaners wat ge-emigreer het terwyl hul papierwerke nie 100% reg was nie en op die ou end jare se probleme gehad het en gedeporteer is. Ekself het dit aan my lyf gevoel toe ons ‘n visum vir ons minderjarige dogter wou uitneem. Op die lys van benodigdhede het gestaan:  “unabridge birth certificate”.  Wat vir ‘n ding is dit? Nee, die gewone geboortesertifikaat wat ons saamgestuur het met die aansoek, was nie voldoende nie, die ouers se besonderhede moet ook daarop wees. Genadiglik kon ons dit in rekordtyd met eksterne hulp regkry, anders moes sy agterbly. Dit het my geleer: Gee hulle wat hulle vra, hoe belaglik dit selfs soms voel. Gee vir hulle selfs meer bewyse as dit sou nodig wees, net om jouself baie moeite te bespaar. Hulle het die hef in die hand. Op Dubai se lughawe kom vertel ‘n man vir my sy hartseer storie. Hy sit toe alreeds 4 dae op Dubai se lughawe. Hul het jare gelede ge-emigreer na Australië. Ná ‘n paar jaar word hy in sy werk verskuif, en skielik ontdek hulle dat daar fout is met sy papierwerke. Hul moes die land onmiddellik verlaat. Toe is hul na Nieu Zeeland en tans iewers in die Ooste. Hyself het op Dubai vasgesit omdat hy terug is SA toe om sy erfporsie te gaan ontvang, ook met ‘n stertjie aan. Hy vertrek vroeër uit SA en DIS waar die probleme toe begin… Toe ek hom raakloop, was hy op pad terug na SA. Is hy net ‘n persoon met wie ongelukkige dinge gebeur? Of lê die probleem dalk by papierwerk? Ek weet nie. Soms doen mens alles reg en dan kom daar tog steeds ‘n fout. Ek weet, dit gebeur ook met my! Al wat ek wel wil sê: Jy kan nie na ‘n ander land gaan, hetsy toer of emigreer, as jou papierwerk nie 100% afgehandel is  terwyl jy nog in jou eie land is nie . Moenie dink jy gaan dit daar anderkant kan regstel nie. Nee. Dáár is die probleem net soveel keer groter en kan dit jou baie duur te staan kom. Daar is genoeg ander dinge wat kan skeef loop! Lekker toer! Toorts Lekker dag 85 Filed under: 100 goedvoel dae , Reis-ervarings Tagged: Reisiger raad , Toerraad