Die Stukkende fotoraam Die week se uitdaging gaan oor fotorame .  Aangesien ek nie aan ‘n ander gebeurtenis rondom fotorame kan dink nie, plaas ek ‘n vorige bloginskywing. Hopenlik is daar diè wat dit nog nie gelees het nie. Vier jaar gelede bring skoonseun ‘n Rottweiler van sowat ses maande huistoe, om die plek te neem van die groot teddiebeer Rottweiler wat dood is.  Die nuwe mannetjie sou ‘n groot beneukte hond word, maar op daardie stadium het hy net loop en kwaaddoen. Op ‘n dag stap ek van die groothuis af terug, en sien hom op die gras lê; besig om aan ‘n fotoraam te kou.  Ek stap nader, en tot my ontsteltenis ontdek ek dat dit Jay se troufoto is wat hy so verinneweer.  Ek worstel die raam uit sy bek los, en bekyk die skade.  Die foto self het skade, maar die raam het die slegste daarvan afgekom. Ek staal myself vir wat in die voëlnes op my wag.  Die kinders se troufotos staan op die ou Singermasjien in die slaapkamer. Stamp per ongeluk een om, en jy veroorsaak ‘n domino effek.  Die hond kon onmoontlik Jay se foto sonder skade beetgekry het. Tot my verbasing is die kamer netjies, en die fotos staan nog almal in hulle plek.  In die middel regs agter is daar egter ‘n gaping waar Jay se foto was.  “Onmoontlik,” sê ek vir myself.  Die hond se grote, en lompheid in ag geneem, die versperrings wat hy moes verby om dié spesifieke foto tussen die ander uit te haal sonder om hulle te versteur, lyk na ‘n totale onmoontlikheid.  ‘n Yskoue rilling trek deur my lyf.  Ek kyk na die twee glimlaggende gesigte op die foto in my hand, en dan  “weet”  ek.  My keel trek toe, en ‘n beklemming kom lê om my hart.  Maak nie saak hoe die hond dit reggekry het om die fotoraam so netjies tussen die ander uit te haal nie; die boodskap is duidelik.  Hartseer plaas ek die stukkende raam tussen die ander fotos, terug. Jay kom kuier.  Ek praat nie oor die insident nie, maar sy sien dit raak.  Sy tel die fotoraam op.  “Hoekom lyk my foto se raam so?” wil sy weet.  Ek vertel haar van die hond en die raam, en probeer dit liggies afmaak, maar sy is ontsteld.  Met oë vol trane kyk sy na my. “Hoekom my foto mamma, hoekom juis my troufoto tussen al die ander uithaal?”  Hoe vertel ek vir hierdie dogter van ons met haar eerlike oë, van my “weet?”  Sonder woorde kyk ons na mekaar.  Met ‘n sug plaas sy die fotoraam op sy plek terug. Twee jaar later staan die blondekop voor die Singermasjien, haar ogies vasgenael op die troufoto van haar pappa en mamma.  “Ek wens hulle het nie geskei nie, ek wens hulle was nog saam,” spreek sy haar verlange hardop uit.  Maande gaan verby, dan vra Jay, “Wanneer gaan mamma hierdie troufoto van my opskeur?”  “Hy bly vir solank jou blondekop meisiekind die behoefte het om na die foto te kyk vir vertroosting.” antwoord ek. Filed under: Die lewe