My droom sitplek Die week se uitdaging gaan oor jou gunsteling sitplek. Annie se sitplek In my geestesoog het ek altyd ‘n rustige tuinhoekie gesien waar ek kon teedrink, gesels of lees.  Maar dit het nooit realiseer nie.  Tussen die mielielande het ons swartryp gekry, dus was ‘n welige tuin met rankplante net ‘n droom.  Hier in die stad het ek weer kom tuinmaak maar van my hoekie het niks gekom nie.  Die wêreld loop afdraande, dus is die voëlnes bokant die tuin gelig.  Ek het darem in die hoek van die tuin ‘n gesellige hoekie probeer maak, maar helaas my kennis om teen ‘n aftraande tuin te maak het my liederlik in die steek gelaat.  Vir die eerste paar jaar het my tuin elke jaar grond en al weggespoel.  ‘n Paar struike waaronder die Icebergs ook tel, het manmoedig bly staan, en blom vandag nog welig voort. My slim plan om ‘n volgroeide birch te laat plant, en daaronder ‘n bankie met ‘n voëlbak neer te sit, werk toe ook nie uit nie.  Die man wat die boom moet plant skud sy kop toe hy die plek sien waar die boom moet kom.  Daar is nie ‘n manier waarop hulle met ‘n trok tot daar kan ry nie.  Hy stel ‘n kleiner boompie voor, maar hy vertel my nie hoe klein nie.  Ek gaan koop ‘n bankie en voëlbak, en wag in spanning vir my boom.   Die boom blyk toe een te wees wat jy in ‘n kwekery kan koop, en met jou een hand kar toe dra.  So groot is my verbasing dat die man my of uit skuldgevoel, of uit jammerte R100 – wat toe nog geld was – afslag gee op die plaas se prys wat hy my vra om die “boom” te plant.  Laat ek sommer byvoeg… Ken was nie beindruk nie. Die boom het skaars tyd gekry om sy wortels te vestig, toe besluit skoonseun hulle om aan te bou.  Alhoewel die birch nie direk in die pad gestaan het nie, was dit heel duidelik dat hy nie plek sou hê om sy takke te sprei nie.  Hy het egter nie die aanbouproses oorleef nie. My laaste probeerslag vir ‘n rustige hoekie was op die dek, maar dit was gou duidelik dat geen potplant die hitte gaan oorleef nie.  Alhoewel my hart altyd sal hunker na ‘n mooi rustige hoekie in die tuin, het ek nou vrede gemaak met my relaxer.  Voete op lag, kuier, lees, en “werk” ek op my “laptop.” Filed under: Die lewe