‘n Album vir elke jaar Die week se uitdaging gaan oor stokperdjies. My liefde vir fotos het ek nie gekies nie, dit het my gekies.  Nie my ma of pa het fotos geneem, of ‘n kamera besit nie.  Ek het ‘n paar fotos van myself as kind gesien, maar weet nie waar daardie fotos vandag is nie.  Dit is ‘n groot jammerte want fotos vertel stories. My gunsteling speletjie in graad een was om deur my geraamde vingers fotos van my maatjies te neem.  Hulle was heel tevrede om as modelle vir my kamma fotos te poseer, maar soos ons groter geword het, het hulle ywer gekwyn, maar myne nie. Op veertienjarige ouderdom kry ek ‘n kamera as kersgeskenk, en van daardie dag af is ek en ‘n kamera onafskeidbaar aan mekaar verbind.  Ek hou dagboek deur fotos – ‘n Album vir elke jaar.  Met my egskeiding verbrand my eks al die fotos voordat ek daarby kan uitkom.  ‘n Groot verlies vir my want dit vertel van die plaas, my tienerjare en dierbare vriendinne, en die paar kort jare saam met my twee seuntjies. Saam met Ken begin ‘n nuwe lewe asook nuwe fotos.  Een vakansie laat val hy my mik en druk kamera in die see.  Wat na ‘n groot verlies gelyk het blyk ‘n seëning te wees.  Terug by die huis nooi ‘n kollega van Ken ons oor om na sy kamera te kom kyk.  Daardie middag kry ek vir die eerste keer met ‘n 35mm SLR kamera te doen, en ek is gehook. Jare vloei inmekaar, en die albums word meer.  Die kinders aanvaar gelate dat hulle ontwikkeling op papier vasgevang word.  Die albums word in die bloukas by die voordeur gehou, en almal weet dat sou ‘n vuur uitbreek, die albums “gered” moet word.  Jay se balletjuffrou onderskraag dit.  Haar plaashuis met geslagte se ougoed het afgebrand, en volgens haar huil sy net oor haar fotos.  Niks kan dit vervang nie…. weet ek dit nie alte goed nie. In my vroeë vyftigs word ons huisgesin tot in sy fondasie toe geruk.  Van ons lewe soos ons dit geken het bly nie veel oor nie.  Te midde soveel skade sit ek op ‘n dag in diep depressie by my sus.  Ek ontmoet vir die eerste keer haar aanstaande skoonseun; ‘n fotograaf met sy eie besigheid.  Ek onthou nie veel van die ontmoeting nie, maar iets wat ek gesê het, het hom bygebly.  Sowat twee weke later kry ek ‘n oproep van hom af.  Hy wil weet of ek belang sou stel om as fotograaf vir sy besigheid opgelei te word.  In die donkerte waarin ek vasgekeer gesit het, was hierdie aanbod ‘n reddingstou wat ek met albei hande vasgegryp het. Fotografie word die terapie wat my uit die put van depressie gelig, en weer op vaste grond laat staan het.  Ek het my eie studio oopgemaak, en vir jare daarna ure, en ure se genot agter die kamera deurgebring, en my na hartelus uitgelewe.  Menieres het my gedwing om die liefde van my eenkant toe te skuif, maar hom heeltemal verlaat die kan ek nie.  Terwyl fone kameras het sal ek aanhou om momente in die lewe vas te vang. Filed under: Uncategorized