geskenkies van ver af Kyk, toe my ma vroeërjare die wêreld vol getoer het, het sy omtrent vir die hele omgewing geskenkies saamgebring. Nie net yskasmagneetjies nie! Ordentlike geskenke. Sy het selfs ‘n ekstra koffer daar moes koop vir al die aankope! My siening oor presentjies saambring is natuurlik heeltemal anders. In die eerste plek het ek net genoeg geld vir die vliegtuigkaartjie en so hier en daar iets ekstra. Goed is baie keer onbetaalbaar duur en mens voel simpel oor die kleinigheid wat jy saambring. So, ek bring regtig net vir die kinders en een of twee vriendinne iets saam, en gewoonlik nie veel meer as ‘n pen of iets nie. My les het ek geleer. As jy iets sien wat oulik is en nie te duur nie, KOOP. Moenie dink jy gaan dit weer raakloop nie. Dit werk net nie so nie! In Egipte het ek al destyds gesien: By die Rooi See was die mooiste aandenkings, serpe en wat nog als te koop, maar nee, ek gaan mos nog na die mark in Caïro waar als so goedkoop is! Wel, by daardie einste mark het ek 3 keer die prys betaal vir dieselfde goed as by die Rooi See en toe was daar nie nog omdraaikans nie. Nou, by die Britse Eilande het dieselfde ding gebeur. By ‘n stasie in die Lakes District was die oulikste winkeltjie. Die mooiste skapie t-hemde vir 2 pond (R36 elk), en ander geskenkies wat heel betaalbaar is. Nee, ons koop nie nou nie, sal met die terugkom koop. Wat gebeur met die terugkom? Daar was amper nie wagtyd tussen die boot en die trein nie, so koopkans was daar nie, tensy ons ‘n hele uur vir die volgende trein sou wag… By ‘n ander winkel het ek ook die oulikste goed gesien en nie gekoop nie – ek kan myself skop! So, liewe maatjies, as julle ooit iewers toer en wil geskenkies saambring, KOOP as julle iets ouliks sien. Daai oulike ding is NIE om elke hoek en draai te kry nie. Maar die meeste van als, GENIET dit net! Toer lekker! Dis ‘n voorreg. :) toertoorts 80-pragtig Filed under: 100 goedvoel dae , Reis-ervarings