Twee vroue en ‘n boodskap Verlede jaar September tref ‘n orkaan my.  Vir vyf maande woed dit voort, en toe ek nie meer ‘n krieseltjie hoop, of krag oor het nie, is hy uitgewoed en kom daar kalmte.  Maar soos die dokter sê jou liggaam is soos ‘n boom, as hy groot stres gevang het gooi hy sy blare af, en my liggaam begin toe my hare afgooi, en hou nie op nie, en dit veroorsaak natuurlik meer stres.  Lang storie kort, ek bly moeg, en huil oor alles… en my hare bly uitval. Gisteraand bel Ken.  Ongelukkig is dit op ‘n baie lae oomblik, en ek grens soos ‘n baba. Vanoggend ontvang ek ‘n baie simpatieke boodskap van hom af, en net toe ek wou antwoord sien ek daar is ‘n Fb boodskap vir my.  Ek maak gou oop en lees dit.  Dit is van Ronêl, ‘n “vriendin” uit ons vroeër jare daar tussen die mielielande.  Ons het vir dertig jaar geen kontak met mekaar gehad nie, maar het mekaar tydens ‘n herunie ‘n paar maande gelede weer gesien.  Diè aand het Ronêl haar hart aan my blootgelê, en moes ek hoor van die groot hartseer en stryd in haar lewe.  Met die terugry het ek dit met Ken gedeel.  Sy hart is sag vir sulke dinge, en ek het geweet hy sal dit ‘n saak van gebed maak. Wel, haar boodskap praat oor haar stryd, maar ook dat daar lig is, en dankie vir die omgee ens.  Ek besluit om vir Ken die boodskap te stuur om hom op hoogte te bring sodat hy sy gebede daarvolgens kan aanpas.  Ek copy-paste die boodskap, en dink toe dat ek darem eers vir Ken dankie moet sê vir sy omgeeboodskap aan my, en dan byvoeg dat die ander boodskap van Ronêl af is.  As julle tred verloor sal ek verstaan, dit is maar ‘n deurmekaar spul. Ek tik toe bo-aan Ronêl se boodskap my eie waar ek o.a sê dat my emosies maar skommel, en ek nie baie logies dink op die oomblik nie.  Ek is nog besig om te tik toe druk ek ongelukkig die verkeerde pyltjie, en daar gaan die whatsapp boodskap voordat ek my sê klaar gesê het, of hom meegedeel het die ander boodskap is van Ronêl af.  Ek laat hom vinnig weet dit is twee verskillende boodskappe, en neem aan die saak is daarmee afgehandel. Kort hierna stuur Ken my ‘n boodskap; “My dierbare vrou ek verstaan glad nie die boodskap nie, waar praat jy en waar praat sy… en watter Ronêl is dit?”  Ek het skoon vergeet ons ken meer as een Ronêl.  Nou eers lees ek die boodskap wat ek aan hom gestuur het, en begin onbeheersd lag, so lekker dat die trane oor my wange loop.  Die twee boodskappe vloei so lekker inmekaar.  My boodskap se laaste woorde lees “soos jy sê,” en net daar begin Ronêl se boodskap “Hi Kameel, …..”  Geen wonder die arme man kon nie kop of stert uitmaak van watter vrou praat waar nie.  Hy het sekerlik gewonder wanneer het hy vir my al die dinge gesê wat Ronêl se boodskap meegee. Ek stuur toe maar vir hom ‘n boodskap met die woorde dat hy nou sekerlik goed verstaan waarom ‘n man net een vrou moet hê – want twee maak hulle heeltemal deurmekaar – en sit ‘n soentjie daarby.  Ewe droog wil hy toe weet van watter vrou af kom die soentjie. Filed under: Uncategorized , Vrouwees