Kinderspeletjies Hierdie week se uitdaging gaan oor kinders. Diè wie my beter ‘ken’ weet dat my hele lewe basies om kinders draai.  Vandag wil ek sommer net onthou van ‘n kosbare oomblik waarvan ek net ‘n stille toehoorder was. In die slaapkamer naaste aan die voëlnes hoor ek nefie en niggie speel.  Met die woorde, “Toe sien jy Superman klim deur die venster, en vlieg weg,” klim sesjarige Reinhardt deur die kamervenster tot bo-op die voëlnes se dek.  Vierjarige Clara hardloop tot by die venster, en roep heel dramaties, “Superman, Superman, kom terug!!!” Vanaf die dek sê Reinhardt, “Toe sien jy die pragtige blomme wat superman vir jou op die bed gelos het.”  Clara draai van die venster af weg, en kort voor lank kom die uitroep, “O, kyk die pragtige blomme.”  Voordat Reinhardt die volgende “en toe…..” woorde kan uiter, breek Clara die storielyn deur met blomme en al venster toe te hardloop, en in ‘n bevelende stem te sê, “Superman wanneer jy vir my ‘n ring bring soek ek nie net een nie maar drie.” Die fotos is van ons kleinkinders.  My dogters het ook ‘n handjie in die neem daarvan gehad. Filed under: Om ouma te wees