Goue appel woorde Die week se uitdaging gaan oor woorde . A word fitly spoken is like apples of gold in settings of silver. Proverbs 25:11 Dit is so ‘n mooi prentjie.  Goue appel woorde wat nie in die lug verlore gaan nie, maar vasgevang word in silwer montering, en vir ander tot seën is.  Verbeel ek my of is goue appel woorde maar skaars in ons wêreld?  Ek praat nie van vleitaal nie, maar van opregte hartswoorde wat lewe bring.  Hoekom woorde terughou wanneer iets mooi is, of wanneer jy goed in ander sien.?  Wie weet of jou woorde nie op daardie oomblik broodnodig is nie. So sit ek op ‘n dag in Dischem en wag vir my beurt om aan te breek.  ‘n ouer Dame – ek noem haar ‘n dame omdat sy soos een gelyk het – kom sit langs my op die bank.  Die silwer toppie wat sy aan het vang dadelik my oog.  Dit is fyngehekel met so ‘n mooi terugslaan kraag.  Wanneer my oë iets moois sien gaan my mond dadelik oop; dus sê ek dit vir haar.  Sy draai haar gesig na my kant toe.  Met haar silwergrys hare, blou oë, fyn silwer hangertjie, oorbelle, en natuurlik die silwer toppie, maak sy ‘n pragtige prentjie.  In my gedagtes sny ek die onnodige goed rondom haar af, en raam haar soos wanneer ‘n mens ‘n foto neem.  “You are beautiful, I wish I could take a photo of you.”  Sy kyk my ‘n rukkie verslae aan, en dan sê sy “Thank you, thank you so much, you don’t know how much I needed those words.” Sy begin vertel van die artritis en osteo wat besig is om haar liggaam af te takel, en skeef te trek.  Sy het voorheen ‘n heupvervanging gehad, en twee weke gelede ‘n knievervanging. Oor ‘n paar maande moet sy die ander heup ook laat vervang.  Diè oggend voordat sy Dischem toe gekom het, het sy voor haar spieël gestaan en dit wat sy gesien het, het haar beswaard gelaat.  Hartseer oor die “lelike” skewe prentjie, en die “ou” grys toppie, het sy winkels toe gekom.  “And here you come and tell me that I am beautiful,” eindig sy glimlaggend.  Groot was my beloning toe ek besef dat ek as instrument gebruik was om goue appel woorde te spreek. Filed under: Die lewe