Dirkie se begrafnis Die foto is van James Ochse geleen Die week se uitdaging gaan oor voëls , en eweskielik lewe die wêreld vanoggend op Fb van die voëls.  Nie mense wat die uitdaging aanvaar het nie, nee sommer so uit die bloute is daar fotos van voëls net waar jy kyk.  Ek is nie ‘n voëlkenner nie, maar ek geniet voëls – dit is die mooiste mooi om met voëlgesang wakker te word, en ek is so spyt dat ons nie hier in die stad groot bome het waarin die voëls kan nesmaak nie. Wat hier wel is, is twee budgies in ‘n hok.  Hulle bly in die groothuis as vermaak vir die kinders, en behoort aan die blondekop.  Gelukkig is die kinders nou ouer, en behoort die budgies hierdie komende vakansie te oorleef.  Ek hoop minstens so want ek sien werklik nie weer kans vir die episode van ‘n paar jaar gelede nie. Dit was vakansie – hier was ses kinders onder die ouderdom van tien jaar op die erf, en ek ouma moes sorg dat alles glad verloop.  So storm ‘n huilende kind of twee op ‘n dag die voëlnes binne, en vertel snikkend dat Dirkie die mak budgie dood is.  In die groothuis vind ek die ander huilende kinders om Dirkie – wat op die tafel lê – vergader.  Daar is oorvloed trane, roukrete, en tussendeur gebroke woorde uit al wat mond is, en natuurlik vingerwysers ook.  Dit blyk dat Lea, agter Dirkie aangehardloop het toe diè probeer wegkom het, en in haar ywer op hom getrap het.  Lea, die sondebok begin al harder huil, en die ander volg haar voorbeeld.  Dit is heel duidelik dat die kinders se harte gebreek is, en dat troos alleen nie die ding gaan doen nie. Ons gaan hom begrawe besluit ek, en die kinders val in met die plan.  Die dogters gaan soek na ‘n geskikte boksie, en lê dit met sneesdoekies uit.  Versigtig word Dirkie in sy kis gesit, en na ‘n laaste blik, en baie trane word die deksel toegemaak.  Papier en inkleurpotlode word gehaal, en afskeidsbriewe in die vorm van tekeninge en woorde vol spelfoute, gemaak.  In haar brief vra Lea om vergifnis vir haar misstap, en verseker Dirkie van haar ewige liefde. ‘n Rukkie later stap die prosessie met hulle kleurvolle afskeidsbriefies in die hand begraafplaas toe.  Riaan, die oudste seun dra die kis. Onder die digte plantegroei word ‘n gat gegrawe en die kis daarin neergesit.  Hand aan hand staan ons by die oop graf en sing.  Daarna kry elke kind ‘n beurt om te bid.  Die rukkende liggaampies, en snikkende gebede is een te veel vir my, en my eie trane begin vloei.  Ek doen die slotgebed; waarna die kis toegegooi, en die briefies op die graf neergesit word.  ‘n Groterige klip dien as grafsteen.  Vir die seuns is die begrafnis nou verby, en hulle keer beswaard terug huistoe.  Die dogters bly agter en versier die graf met blomme.  Die res van die dag is daar ‘n vreemde stilte op die erf – kindergelag sou ek eers weer die volgende dag hoor. Filed under: Die lewe