Die droom Wanneer dinge doller by my begin gaan, droom ek ook meer. Sjoe, nou die nag het ek 3 rillers op ‘n ry gehad. Ek sit regop na die eerste een, en vertel kliphard vir my man wat ek gedroom het terwyl hy heerlik snork, net om “uit” die droom te kom, anders gaan dit aan en aan en aan…. Vanoggend word ek wakker, einde van my droom, huwelik aan skerwe IN DIE DROOM. Let wel. In die droom was ons op ‘n eiland of ‘n plek, seker so 10 van ons. Wat ons op die eiland moes doen, weet ek nie. Werk of iets. Ons almal slaap in ‘n groot tent, almal bymekaar. Dis ‘n lang tyd wat ons op die eiland bly. Dis die tweede keer wat ons daar is. Die vorige keer op die eiland het dit goed gegaan. Al het ons saam met ander in ‘n tent geslaap en was ons redelik die hele tyd tussen ander, het ons slim planne gemaak om ongesiens, of dalk dink ons, ongesiens, weg te glip, alleen bymekaar te wees. Maar hierdie keer? Nee. Die bootjie bly so helder uit die droom. Nee, ons het ook nie met die bootjie weggeglip nie. Aan die einde van die tyd is dit toe ook die einde van die huwelik. Genadiglik ook die einde van die droom, en ja, pappa is nog hier… :) (sug van verligting) Nou wat dan? Wat was die verskil tussen die tweede keer en die eerste keer? Hoekom het die huwelik dan na die eerste keer geblom? Intimiteit. Ek hoop ek verstaan die woord reg, en dat ek dit reg oordra. Nie net seks nie, maar ja, ook seks. Maar daardie “spesiale” dingetjies wat julle doen, geheimpies wat julle deel, selfs al is julle in ‘n groep, sonder om die res van die groep ongemaklik te maak. ‘n Raak aan mekaar. Saam planne maak om dalk weg te glip. Dalk in die aand alleen in die donker/maanlig ‘n entjie te gaan stap… Ook by die huis. As dinge so bedrywig gaan, verval ons maklik in ‘n groef. Werk hard, val saans moeg voor die TV neer, gaan slaap… Intimiteit. Om ook daar iets besonders te doen om die flammetjie aan die brand te hou. Gaan sit by hom op sy uitskopstoel, al is dit net ‘n uitskopstoel vir een en al is ons altwee oorgewig… bad saam… raak aan hom… stop by hom en gee hom ‘n drukkie… enige iets. Wat het julle gedoen toe julle jonk was? Wat het jy gedoen om die kersie te laat brand? Ja, dit het sommer net vanself gebeur, maar WAT het sommer net vanself gebeur? Die huwelikskersie brand nie sommer net vanself nie, dis nie net ‘n vanselfsprekendheid nie. ONS moet dit aan die brand hou, kreatief wees, planne maak. Ons huwelik is ons kosbaarste besitting. steedsgelukkiggetroudtoorts Dag 76 van gelukkigheid Filed under: 100 goedvoel dae , Huwelik en Verhoudings