Boeke Hierdie week se uitdaging gaan oor boeke . Ek kon spel… let wel, ek kon spel, en baie goed spel ook.  Ek het nie oor woorde gestruikel nie, maar nou struikel ek oor hulle.  “Is dit skein… of skyn… is dit interressant of interessant… is dit….?”  Sugtend oor dit wat was word die ou woordeboek nader getrek.  Die Verklarende Afrikaanse Woordeboek wat saam met Ken my lewe binnegekom het.  Hy is in 1956 gepubliseer.  Ek het nooit gedink die dag sou kom dat ek hom so nodig sou kry nie. Noudat spelling nie meer so natuurlik kom nie, het ek begin wonder waar ek geleer het om te spel.  Skool het sekerlik gehelp, maar ek kannie dink dat ons ooit spelreëls geleer het, en dat spelling in my kop ingedreun is nie.  Daar kan net een ander plek wees waar ek onbewustelik leer spel het… boeke!!! Sovêr as wat ek kan terugdink maak boeke ‘n grooooot deel van my lewe uit.  My grootste geskenk as kind was die twee rooi boeke wat my ma vir my gekoop het.  Ek is nie seker van die titel nie, maar ek dink dit was “Oom At te Slaaptydstories.”  Ek het die stories met hulle lewenslesse daarin oor, en oor, en oor gelees.  Een van die lewenslesse kan ek nog goed onthou; jy vat nie die grootste stuk koek vir jouself nie…. ouch. En toe kom die blye dag dat ek groot genoeg is om by ‘n biblioteek aan te sluit.  Ek het soveel tyd daar deurgebring dat die familie later in lyn geval het vir biblioteekkaartjies. Die kaartjies was natuurlik vir my bedoel, sodat ek meer boeke op ‘n slag kon uitneem.  Dit het nie veel gehelp nie, ek het die stapel boeke so vinnig verslind dat tot die bibliotekares bekommerd geraak het.  “As jy op die trand aangaan, gaan daar een van die dae niks meer wees wat jy kan lees nie.”  Van daardie dag af het sy die nuwe boeke wat ingekom het nie dadelik op die rak gesit nie, maar gehou sodat ek dit eerste kon lees. Op ‘n dag weier my ma dat ek biblioteek toe gaan.  “Daar kom ‘n groot storm aan, en jy bly net hier,” sê sy.  Desperaat soebat ek haar om my te laat gaan, en ‘n rukkie later stap ek straat af.  Die donderweer dreun en ek haas my.  Halfpad daar slaan ‘n weerligstraal die buslyne net hier voor my raak; blou vonke hardloop met die lyne langs bo-oor my kop verby, en ek hardloop na die eerste beste huis toe, en hamer aan die voordeur.  Die tannie ontferm haar oor die verskrikte, huilende kind, en laat haar binneshuis die storm uitwag.  Vir die grootste deel van my lewe daarna sou ek ‘n ontsettende vrees vir donderweer behou. Die weerlig het darem nie my liefde vir boeke raak geslaan nie.  Op hoërskool het ek nie net vir my eie genot gelees nie, maar boeke vir my ma voorgelees terwyl sy voor die masjien gesit en werk het.  Erens langs haar getroude pad het sy boeke vir altyd neergelê.  Haar rede; “Neus in die boek, stof in die hoek.”  Later jare met ‘n groot huishouding van my eie het ek besef hoe waar dit is.  Ek moes leisels intrek, daar was nie meer tyd om na ligte uit met ‘n flitslig onder die komberse te lê en lees nie.  Maar ek het geweet die gety sal weer draai. Nou, wanneer ek verbaas opkyk omdat ek voëltjies hoor sing, en die klok vertel my dat ek deurnag sit en lees het, is daar geen skuldgevoel nie.  Inteendeel, ek is besig om verlore tyd in te haal. Filed under: 'In opdrag....