Ursulaaaaa… Ursula is weer op haar stukke. Dit kan ook nie anders nie, want ek het mos al weer reisplanne en nou gaan alles doller as kop-af, en dis juis sulke tye wat Ursula dink sy moet my help. Ai toggie. Vir dié wie nie weet nie. Ursula is my alter-ego. Siestog, ek het al baie gekla oor haar hier op die blog, maar sy is darem nie net sleg nie. Sy steek vreeslik graag my goed weg. Maar weet julle, met my dogter se 21st so ‘n paar weke gelede, het sy regtig haar kant gebring en my baie mooi gehelp dat als reg was. Maar nou! :shock: Ek weet nie of sy aspris is en of sy dink sy doen goed nie. :( Nou is dit weer penne wat weggesteek word, die potlood wat ek nou net mee besig was, het al weer spoorloos verdwyn… Nou die aand sit ek by my lessenaar en voel iets byt my. By nabetragting dink ek nie iets het my gebyt nie, maar my hond het my die dag met sy groot poot raakgetrap. Die bloed loop toe behoorlik en my voet is sommer blou! Toe ek toe onder my lessenaar inloer om die byter te soek, waarop kom ek af? Skoene :!: DRIE PARE SKOENE! Geen wonder as ek in my kas kyk is daar nie skoene om aan te trek nie. URSULA! WAT sal haar bedoeling nou wees om my skoene almal op ‘n hoop onder my lessenaar te gooi? Nou ja, ek hét haar, en as ek vakansieplanne kry, raak sy bedrywig. Iemand het juis een keer gewaarsku dat, soos mens ouer word, sy maats gaan kry. :shock: Behoede my! Gewoonlik bly sy by die huis, maar ek het haar al gevang dat sy op ‘n toer ook bedrywig raak. Soos toe ons die eerste keer by ons getroude kinders in Natal gaan kuier het. Ek het myself baie mooi gepreek vooraf: “Onthou, dis HULLE huis, jy is net ‘n KUIERGAS. Jy GEDRA jou daarvolgens. Jy loer NIE in hulle kaste nie, maak GEEN opmerkings oor ENIGE ding nie. Jy meng NIE in nie.” Ons slaap toe in die sitkamer en my seun se kantoor word die plekkie waar ons ons koffers kan neersit. Ek staan doodstil, raak aan niks, en sien in die boks onder die lessenaar lê Takalani Sesami legkaarte. NET wat ek nodig het om met die plaaskinders te speel. Maar… “Jy meng nie in nie, jy sê NIKS!!” … Sal Ursula wraggies loop en sing… “Takalani, Sesami” … :( Ursula-gehelpde-Toorts Die vooruitsig van rondrits… 75e dag van lekkerte! Filed under: 100 goedvoel dae , Lawwighede; Tong-innie-kies , Ursula