brand Hoekom is ek bang vir vuur? Nou nie ‘n braaivleisvuur nie, maar ‘n berg wat brand, ‘n kar wat rol en aan die brand slaan? Want een oggend het ek wakker geword, ek was so 5 jaar oud, toe sien ek dat daar ‘n bietjie konsternasie was die vorige nag. Die huis ruik ook effens anders… Ons bure het hulle plaas verkoop en daardie dag is hulle trek gelaai. Hulle het die nag by ons kom slaap. My ma-hulle het nog gesit en gesels toe ek solank gaan slaap het. Sommer in my ma-hulle se bed. Die kamerdeur was toe. (Dis eintlik vreemd want ek hou van ‘n oop kamerdeur.) Toe ek die bedliggie afsit, maak die skakelaar nie “kliek” nie. Genadiglik moes my ma iets in die kamer kom haal, en kom toe af op ‘n kamer vol rook. Ons het nog in daardie dae 32 volt elektrisiteit gebruik. Die skakelaar wat nie behoorlik afgesit het nie, het ‘n kortsluiting veroorsaak, wat al die elektriese drade laat brand het in die vertrek. Vir baie baie jare daarná is ek altyd herinner aan die insident, deur brandplekkies langs die elektriese draad. Die plafon is eers baie jare later oorgeverf omdat dit regtig net klein plekkies was, maar hulle was daar… Kameel het my nou hieraan laat dink. Verstaan julle nou hoekom ek bewus is van ELKE brand in die Overberg? vuurfobietoorts Dankbaar dat ek leef dag 74   Filed under: 100 goedvoel dae