Die Smeulende Kussing Hierdie week se uitdaging gaan oor kussings. Ek hou van mooi kussings, ook van my slaapkussing wat ek oral met my saam piekel omdat ek nie op ‘n ander kussing kan slaap nie, maar daar is ‘n insident rondom ‘n kussing waaraan ek nie graag terugdink nie. Dit was vroegoggend.  Ek hoor my twee seuntjies hoes.  Eers dink ek hulle speel, maar toe die hoesbui aanhou en in intensiteit toeneem stap ek na hulle kamer toe.  Ek rek my treë toe ek sien daar borrel rook onder die kamerdeur uit.  Toe ek die deur oopstoot begin my oë traan, en ‘n hoesbui oorval my.  Die kamer hang dik van die rook.  Uit ‘n smeulende kussing in die middel van die vloer borrel rook die lug in.  My reaksie is onmiddelik; ek gryp driejarige Timmy uit sy bed uit en hardloop met hom gang toe.  Daar druk ek hom in die bediende – wat kort op my hakke gevolg het – se arms, en hardloop terug om tweejarige Amiel te gaan haal.  “Vat hulle buitekant toe, en bring water” gee ek die bediende opdrag en hardloop terug kamer toe. Ek gryp komberse van Timmy se bed af en gooi dit oor die smeulende hoop op die vloer.  Dit is asof ‘n ander persoon van my besit geneem het; ‘n persoon wat trap, en spring, en klap sonder om ‘n oomblik aan haar eie veiligheid te dink.  Die bediende kom met ‘n emmer water aangehardloop.  Uiteindelik is die smeulende vuur dood, en kan ek weer vrylik asemhaal.  In die middel van die volvloer rooi mat is daar ‘n yslike swart kol gebrand, en binne in die kol lê dit wat eers ‘n kussing was. Ek gaan haal vir Timmy en Amiel.  Timmy is vinnig om sy misnoë te kenne te gee oor die rowwe behandeling wat hy gekry het.  Dat hy nie die erns van die situasie begryp nie is heel duidelik.  Ek verduidelik aan hom die rede vir my hardhandige optrede, en vra hom hoe dit gekom het dat daardie kussing aan die brand geraak het.  Heel trots verduidelik hy dat boetie koud gekry het, en toe sê hy vir hom, “Toemaar boetie moet nie worry nie, ek sal vir ons ‘n vuur maak.” Ek eis as ek aan daardie oggend terugdink, maar daar ook ‘n diepe dankbaarheid.  Was dit nie vir God se hand van genade nie, kon die storie kon homself so anders uitgespeel het. Filed under: Om ma te wees