Kenneth se troufotos Kenneth se grootste bekommernis rondom sy troue was die troufotos.  As fotograaf het hy besef hoe belangrik dit is om die regte persoon te kry.  Indien hy dit kon bekostig sou hy sonder huiwering een van Suid Afrika se top troufotograwe gekry het, maar dit was bokant sy vuurmaakplek.  Hy het dikwels in die jare voor sy troue die onderwerp aangeroer, maar ons albei was in die duister waar jy ‘n goeie fotograaf – wat Kenneth se kunstenaarstemperament in ag sal neem – teen ‘n billike prys gaan kry. Die tyd om fotograaf te soek breek aan.  Kenneth besluit op ‘n meisie met ‘n uitstekende portfolio.  “Sy kyk met ‘n kunstenaarsoog,” sê hy.  Ek sug van verligting want ek ken my seun – hy kyk met so ‘n fyn oog na dinge, dat dit moeilik is om hom tevrede te stel. Twee dae voor die troue val Marlè se driejarige seuntjie – wat hofknapie op die troue gaan wees – sy neus en bolip nerfaf.  Marlè, die perfeksionis is hoogs ontsteld maar daar is niks aan die saak te doen nie.  Die volgende dag word daar egter vinnig gespring toe Shane van die Suidkus af opdaag met Kenneth se rooi pak klere wat ons skoondogter vir hom gemaak het, en die baadjie sit nie reg nie.  Gelukkig is die dame by Bernina heel hulpvaardig. Later die middag kom laai Anke – ons aanstaande skoondogter – se pa, die blomme by die groothuis af.  Na Marlè se teleurstelling rondom haar eie troue, het sy die taak van tafels dek, en blomme rangskik vir haar susters, en nou ook Kenneth se troue op haarself geneem.  Ek is alleen by die huis, en is dadelik in ‘n “flat spin” soos die Engelse sal sê, toe ek die hoeveelheid blomme sien.  Ek haas my om die drie baddens in die huis vol water te tap, en dit is met die terugkomslag dat my oog die spaarkamer vang, en ek verwonderd tot stilstand kom.  Waar die deuropening moet wees, is daar nou ‘n waterval.  Met sy arms vol blomme kom Anke se pa om die draai.  Hy sit die blomme vinnig neer, “n Geyser het gebars,” som hy die saak op, en wil weet waar hy die water kan toedraai.  “Ons kannie nou water toedraai nie, die baddens moet eers vol water tap,” sê ek benoud.  Gelukkig het die huis meer as een geyser.  Met arms vol blomme stap ons op en af verby die waterval wat vinnig besig is om die kamer in ‘n dam te verander, en die gang in ‘n rivier. Uiteindelik kan ons aandag aan diè netelige saak gee, en begin na die toevoerkraan soek.  Ons vind hom op die sypaadje saam met nog twee huise s’n.  Al drie krane word toegedraai, en daarna word een vir een getoets, wat beteken ek hardloop huistoe, en dan weer terug sypaadjie toe.  Anke se pa vertrek, en ek keer terug na ‘n huis sonder water, en nat vloere. Die dag van die troue breek sonskynhelder aan.  Ons vertrek na ‘n wildsplaas buite Pretoria waar ons ook die nag gaan oorslaap.  Droomverlore staan ‘n ou grasdakkerkie tussen hoë bome, en ek besef dadelik hoekom Kenneth so gaande oor die plek is; dit is ‘n fotograaf se droom. Ons word ons kamer aangewys, en begin heel rustig regmaak vir die troue.  Dit begin saggies reën, gelukkig is daar sambrele in die kamer, en so stap-stap met die wandelpaadjie langs kom ons by die kerk aan.  Dit is so gesellig binne dat almal heerlik sit en gesels.  Ken, vol van die lag kom roep my om die petalje buite gade te slaan.  Anke het aangekom; maar met die wind wat intussen opgesteek het sukkel hulle om haar uit die motor te kry.  Die sambreel wat hulle oor haar hou, bly omdop. Die diens wat deur ‘n gesamentlike vriend van Kenneth en Anke gelei word, was ‘n fees.  Daar word gelag, met tye trane afgevee, maar dit is Jesus se teenwoordigheid in ons midde wat ‘n onuitwisbare indruk maak. Kon ek hier stop sou dit ‘n wonderlike einde vir ‘n pragtige troue gewees het, maar helaas daar moet nog troufotos geneem word.  Die kerkie se binnekant was ‘n ideale plek vir familiefotos; maar die fotograaf het skaars begin of beide ek en Kenneth besef dat sy min ondervinding het.  Uit skone frustrasie sê Kenneth op ‘n stadium vir haar, “Klim op ‘n bank en kry net ‘n ander “angle” vir die fotos.  Dit is duidelik dat sy hande jeuk om die kamera by haar oor te neem, en ek besef die skrif is teen die muur.  Kenneth se grootste nagmerrie rondom sy troufotos het waar geword.   Filed under: Die lewe