Troufotograwe Dis seker ‘n onderwerp waaroor ek nie my mond mag rek nie, om ‘n paar redes. Eerstens is ek ‘n patetiese fotograaf, so wat sal ek nou weet van troufotografie? Kameel het juis geskryf van ‘n fiasko rondom Kenneth se troufoto’s . Dan kom ek ook nog uit ‘n era waar daar hoogstens 60 of 100 foto’s geneem is deur die fotograaf en daaruit is 20 of 30 gekies vir die trou-album. Daardie outydse fotograwe het geweet hulle het één kans, en dit moet reg gebruik word, al was al die foto’s sulke stywes foto’s. Een ding is wel waar: Hedendaagse fotograwe wéét hoe om die beste van die bruid en bruidegom te maak! :) Wat my grensloos irriteer is dat die fotograwe by soveel troues die kerkdiens heeltemal oorneem. Trou ons in die kerk vir die foto’s? Of trou ons in die kerk omdat dit ‘n behoefte van ons hart is om aan God die eer van ons huwelik te gee? Ek verstaan ons wil ‘n paar mooi foto’s van die kerkseremonie hê, maar fotograwe sal beslis moet leer om respek vir die orde, die predikant wat sy BES doen om die mense se aandag te hou, die boodskap, vir God. Een troue wat ek bygewoon het was in ‘n piep-klein kerkie. Te pragtig. Op die verhogie is omtrent net plek vir die predikant. Op een stadium, terwyl die dominee sy preek lewer, was hy daar, plus die hoof fotograaf, die hulp fotograaf, die hoof video fotograaf en die hulp videofotograaf. Ek kon later net nie meer my aandag aan die predikant gee nie. Die hooffotograaf het AL my aandag gehad. Elke DRIE sekondes het sy ‘n foto geneem. Ek belowe, ek het getel. Sy het geseil en in die ongemaklikste posisies foto’s geneem TERWYL die diens aan die gang was! HOEVEEL FOTO’S WIL JY NOU REGTIG NEEM VAN ‘N BRUID EN BRUIDEGOM WAT DOODSTIL STAAN VOOR DIE PREEKSTOEL? Regtig. :shock: As jy nie tussen 10 foto’s EEN mooie kan uitkies nie, dan moet jy dalk nie ‘n fotograaf wees nie. By ‘n ander troue was als rustig, die volgende oomblik spring die fotograaf op en gaan neem… die… gesangeboeke :!: af!! Genade. Sy kon dit mos NA die diens afgeneem het as sy so ‘n groot behoefte gehad het! Fotograwe, ek mag outyds wees, maar asseblief! Neem die diens in ag. Asseblief. Dan praat ek nie eers van die ure wat die gaste soms moet wag terwyl die bruidspaar foto’s neem nie… Is dit net vir my wat dit pla? Toorts Filed under: Verskeidenheid Onderwerpe